2. VOC
KAMERS
deur AM van Rensburg
Die
VOC het bestaan uit 6 Kamers wat in 1602 gestig was. Hulle het 'n
bewindheeser elk gehad. Die VOC was beheer deur die Heere XVII.
Hieronder word die Kamers gemeld asook die getal teenwoordiges wat elk
gehad het. Dan was daar nog een ekstra verteenwoordiger gekies en die
vier kleinste Kamers moes saamgestem het met die keuse. Hierdie 17de
persoon was voorgestel deur Zeeland en een van die kleiner Kamers al om
die beurt:
Zeeland (het
gesit op Middelburg en het ook ingesluit die stede Veere en Vlissingen)-
4 Verteenwoordiges
Amsterdam, Noord Holland - 8 Verteenwoordiges
Enkhuizen, Noord Holland - 1 Verteenwoordiges
Hoorn, Noord Holland - 1 Verteenwoordiges
Delft, Zuid Holland - 1 Verteenwoordiges
Rotterdam, Zeeland - 1 Verteenwoordiges
Ekstra - 1 verteenwoordige
TOTAAL van XVII Heere
Elke
Kamer het 'n groot mate van selfstandigheid behou, moes hulle eie
personeel werf, bou hulle eie skepe en sorg vir die uitrusting daarvan.
Maar die handel was gesentraliseert, met pryse vasgestel deur die VOC.
Nederland
se regering was bekend as die State Generaal, maar hulle het die VOC
vryehand en mag gegee - om te handel, op te tree as die reg, om kolonies
te stig, diplomatiese verbintennise met ander lande te sluit. Om forte
te bou, militêre personeel te verwerf en selfs om oorlog teen ander
lande te voer. Asook die hoofrede - alleenreg om handel te dryf in die
Ooste. Die VOC was in beheer van die kerk en die aansteling van dominees
en kerkamptenare, hulle het ook die salarisse van die geestelike werkers
betaal. Die VOC het dus die reg ontvang wat gewoonlik beperk was tot 'n
staat. Die VOC was ' n staat binne 'n staat. Die VOC se leuse was
"Jesus Christus is goed maar om Handel te dryf is beter"
BIBLIOGRAFIE:
Philippe Godard: The First and Last Voyage of the Batavia
CR Boxer: The Dutch Seabourne Empire
R
van Gelder & L Wagenaar: Sporen van de Compagnie: De VOC in
Nederland
Top
3.
IN DIENS VAN DIE VOC EN VERTREK
deur Helena Garner
Helena
Garner gee die volgende opsomming van Karel Schoeman se hoofstuk oor
Amsterdam in sy boek:
Stamland : 'n reis deur Nederland. Kaapstad
: Human & Rousseau, c 1999.
Die
VOC is in 1602 gestig en het uit ses kamers bestaan. Die Kamer van
Amsterdam wat die sterkste van die ses kamers van die VOC was het die
ander vyf kamers gedomineer. 725 van die VOC- skepe uit die 1450 wat
gedurende die twee eeue van sy bestaan gebruik is, is hier gebou.
Gedurende die bloeitydperk van die VOC het meer as duisend mense op die
skeepswerwe gewerk. Die rivier, die Amstel is in die IJ in die Oude
Zijde op die regteroewer opgedam sodat die skepe daarin kon opvaar. Die
vroe?dam Amstel is deesdae 'n plein wat nou die middelpunt van die
stad vorm. Amsterdam se naam is hiervan afgelei. Die skepe het vanaf die
Damrak uitgeseil na die IJ wat in die Suidersee uitmond en vandaar na
die wêreld. In Warmoesstraat wat die belangrikste winkelstraat in
Amsterdam was het die koopmanne gewoon. Agter hulle woonhuise was die
pakhuise met toegang tot die water van die Damrak. Die burgemeester en
direkteure van die VOC het ook in hierdie deel van die ou Middeleeuse
stad gewoon.
Die
VOC het nie so 'n goeie reputasie gehad dat die Nederlanders graag by
hom in diens geneem wou word nie, arbeidsvoorwaardes en lone was nie
aantreklik nie. Om as soldate te werk was nog minder aantreklik. As
gevolg hiervan moes die Kompanjie arbeiders uit die buiteland trek. Baie
arbeiders het dan ook vanaf hawestede uit die Noord-, Oos- en Wit See of
vanaf Duitsland gekom. Duitsland het gely onder armoede, hongersnood,
oorlog en vervolging. Daar was ook wanaangepastes, misdadigers en
avonturiers onder hierdie mense. Werksoekers kon hulle by enige van die
Kompanjie se kamers aanmeld, maar omdat Amsterdam daardie tyd die derde
grootste stad in Europa was (London en Parys was groter) het die meeste
daarheen gegaan. Meestal moes hulle oorbly in die stegies in agterkamers
of solders waar die straatvroue bedrywig was. Op bepaalde dae is 'volgens
gewoonte in alle strate en stege met trommels en fluite, skalmeie en
trompette' aangekondig dat nuwe werkers by die kompanjie benodig word.
Die kantore was gele?te Oostindisch Huis, 'n reeks van geboue in Oude
Hoogstraat vanaf die Dam na die Oude Schans waar die stadsmuur van die
Middeleeuse stad was. Tans word die oorspronklike hoofgebou deur die
Sociologisch Instituut van die Universiteit van Amsterdam gebruik.
Hier
volg wat Karel Schoeman in die Engelse vertaling van die Van
Riebeeckvereniging aangehaal het van O.F. Mentzel se biografie oor R.S.
Alleman wat die toestande om aanvaar te word beskryf: "Hier is
daar 'n groot menigte, en die potensiële rekrute word in groepies van
twaalf of hoogstens vyftien in die gebou ingelaat. So gou soos wat die
deur oopgemaak word, probeer al die mans wat naby genoeg is vir hulle 'n
pad na binne forseer, en dit gebeur dikwels dat mense doodgedruk word in
die gedrang wat sodoende ontstaan. Die vasgestelde aantal mans word
binnegelaat, dan word die deur weer toegemaak, en enigeen wat hom nie
vinnig genoeg terugtrek nie, word deur die deurwagters deeglik reggesien
... Dit is byna ongelooflik hoe die mans hul in die diens van die
Kompanjie probeer indwing. Ek het self mans gesien wat na die vensters
van die tweede verdieping, bo die ingangsdeur, opklouter en daar aan die
ysterrooster vasklou totdat die deur oopgemaak word; hulle laat dan
onmidellik los, val op die koppe van die mans wat voor die deur staan,
en word sodoende saam in die gebou ingevoer. Selfs die mans wat afgekeur
is, verloor nie hoop nie; hulle trek 'n ander uniform aan en wag omtrent
'n uur of anderhalwe uur. Dan forseer hulle vir die tweede keer 'n pad
na binne, en is dan dikwels gelukkig genoeg om aanvaar te word, veral as
daar teen die einde van die dag 'n tekort aan applikante blyk te wees."
Diegene
wat as matrose of soldate kon diens doen moes 'n kontrak vir vyf jaar
diens in die Ooste of aan die Kaap teken. Dit het nie die heen- en
terugreis ingesluit nie wat beteken het dat nog twee jaar bygevoeg moes
word. Die vroue, "sielverkopers" genoem wat by die
indiensneming betrokke was het hulle voorsien van 'n skeepskis met die
basiese noodsaaklikhede, bv. 'n jas, hemde, slaapmus, matras, kleipype
en brandewyn of jenewer. Hierna het die lang reis feitlik dadelik begin.
Die
Suidersee was te vlak vir skepe, daarom het die VOC se skepe van die
eiland Texel vertrek. Almal wat van Amsterdam, Hoorn en Enkhuizen
vertrek het is met platboomskuite, ligters genoem, na Texel vervoer. Die
roete loop vanaf Oostindisch Huis langs die Nieuwe Hoogstraat en die
Snoekjesgracht na die Oude Schans tot by die steier te Montelbaanstoren,
'n ou Renaissancetoring wat deel van die stad se muur was. Daar bestaan
'n ets van hierdie uittog deur Renier Nooms en 'n olieverfskildery deur
Abraham Storck. Die Oude Schans met sy troebel water en die
Montelbaanstoren en aan die oorkant die WIC-pakhuise wat in 1641-42
opgerig is bestaan nog.
Gedurende
1608 het die Amsterdamse Kamer sy eie skeepswerf op die eiland Rapenburg
aan die oewers van die IJ gekry. Hierdie toegangspoort met die monogram
A VOC asook die name Peper- en Foeliestraat en die twee pakhuise waar
Kaapse wyn en arak (Oosterse rysbrandewyn) geberg is het aan die huidige
Prins Hendrikkade behoue gebly. In die moderne stadgids word daar verwys
na die "Kaapse wijnpakhuizen". Die VOC se nuwe skeepsweerf was
sedert 1661 op die eiland Oostenburg. Seile, ankers, toue en spykers is
deur die Kompanjie self gemaak. 'n Magasyn van vier verdiepings met 'n
fasade van 177 meter lank is daar gebou maar bestaan nie meer nie. Die
Zeemagazijn van die Admiraliteit van Kattenburg waar die Nedelandse
Scheepvaart Museum tans is het behoue gebly. 'n Replika van die
"Amsterdam" wat in 1748 gebou is kan hier besigtig word. Werk-
en woonruimtes was baie beknop. Die ophaalbrug van die Oude Schans en
die Montelbaanstoren kan van hier af gesien word.
In
die nuwe provinsie Flevoland, aan die rand van die Ijsselmeer is 'n
replika van die "Batavia" waar die oorloopdek wat oor die
volle lengte van die skip loop gesien kan word. Die oorloopdek was
onmiddellik onder die dek van die seilskepe waar die matrose heen
gebring is. Die skepe was oorbeset om voorsiening te maak vir verliese
deur siektes of sterftes, gewoonlik het 200 man vanaf Amsterdam vertrek
teenoor 110 op die terugreis.
Die
matrose was saam met hulle kiste en hangmatte tussen kanonne en die vrag
gehuisves met die dakhoogte 1.8 meter geventileer deur die luike en
kanonpoorte. Nog laer af onder die waterlyn was die koebrug, slegs deur
die rooster in die oorloop geventileer, omtrent 1,5 meter hoog waar die
soldate in diens van die Kompanjie gehuisves is. Hierdie mans was
meestal Duitsers wat by hulle bestemmings agtergebly het.
Skeurbuik
en later vlektifus was die siektes wat die meeste lewens geëis het.
Skeurbuik was 'n verskriklike siekte; tande het uitgeval, tandvleis het
sleg geword en moes weggesny word, asemhalingsprobleme en opgeswelde
ledemate was van die gevolge. Die voorgeskrewe oggendgebed op die VOC-skepe
het gelui: "O eeuwige, almagtige God en Vader! Bevryd ons door
uwe bermhertigheit voor alle schadelyke stromwinden, onweder en alle
andere zeenoden. Verleen ons goet weder en bekwaamen wint, opdat wy onse
aangenomen reis voorspoediglyk mogen volbregen tot Uwes Naams prys en
eeredienste onzes Vaderlands, en troost der gene welken daaraan in het
byzonder is gelegen."
Top
4.
VAART NA DIE KAAP
deur Johan C Erasmus
Van
Texel na Stormkaap
Die hawe van Texel was destyds inderdaad 'n baie belangrike vertrekpunt
vir menige skeepsreis. In sy boek "Helperus Rizema Van Lier"
p. 119 - 121 skryf dr. T. N. Hanekom, na aanleiding van die eerstydse
predikant se vertrek uit Nederland en reis na die Kaap, die volgende oor
die verloop en die gevare verbonde aan so 'n reis.
"In
elke geval was die vertrek van skepe in di?dae maar baie onseker. So
vertel Cornelius de Jong, seekaptein van die 'Scipio', dat hy in 1791
reeds op 15 Augustus die eerste manskappe aan boord gehad het, maar eers
op 16 Desember die Hellevoetsluis passeer het om sy reis na die Kaap te
begin. En so moes ook Van Lier en sy susters maar wag vir die gele?dag,
wanneer ook hulle skip die vaderland sou verlaat. Vir hierdie lang reis
was hulle aangewese op die 'Jagtrust', wat reeds sedert 1775 in diens
van die Kamer van Amsterdam vaar en vir hierdie reis onder bevel van
kaptein Anthony Lubbe sou staan.
Die
langverwagte dag van afskeid het eindelik aangebreek op 27 Mei 1786, toe
die 'Jagtrust', met 110 koppe aan boord, uit die hawe van Texel vertrek.
Hoe lank die reis sou duur, het niemand geweet nie, aangesien alles
afgehang het van die wind, met soveel ander gevare en moontlikhede op
die weg. Gewoonlik het die reis na die Kaap in daardie dae van drie tot
vyf maande geduur, en al was die gevaar van seerowers toe nie meer daar
nie, het daar genoeg ander gevare oorgebly.
Tussen
die jare 1785-90 bv. het 'n hele aandtal skepe onderweg na die Stormkaap
skipbreuk gely, dikwels met lewensverlies van passasiers of bemaning.
Ook muitery onder matrose was geen denkbeeldige gevaar nie. So bv. is
die wrak van die Franse skip, 'Rozette', op 19 Aug. 1786 -- juis toe die
'Jatrust' ook op see was! -- digby Kaappunt aangetref, sonder 'n lewende
wese aan boord. 'n Paar dae later is ses matrose onder verdagte
omstandighede by die Kaap aangetref en gearresteer; en by die
geregtelike ondersoek het geblyk dat hulle die offisiere en ander
manskappe van die 'Rozette' vermoor het, en toe hul skip op die rotse
gestuur het, om so die land te bereik. Nog in dieselfde jaar , na Van
Lier se aankoms aan die Kaap, is hulle daar -- op 'n wrede wyse --
tereggestel om te boet vir hul misdaad. Siektes aan boord -- rottekoors
word dikwels genoem -- het ook baie slagoffers geëis, al was die
gevreesde skeurbuik toe nie meer so 'n gevaar nie. Ook die 'Jagtrust'
moes by sy aankoms aan die Kaap 15 siekes en 2 dodes aanmeld. Die reis
het egter nie te lank geduur nie, aangesien die goewerneur, C. J. de
Graaff, reeds op 7 Sept. 1786 aan die Politieke Raad kon meedeel dat ds.
Helperus Rizema van Lier, 'met het schip 'Jagtrust' alhier behouden
aangekomen was'. Die aankoms van so 'n skip in Tafelbaai was in daardie
dae 'n blye gebeurtenis, nie alleen vir die passasiers wat soveel maande
aan die genade van die see toevertrou was nie, maar ook vir die
bewindhebbers van die Oos-Indiese Kompanjie, wie se belange daarby
betrokke was.
In
sy reisbeskrywing vertel seekaptein C. de Jong van sy aankoms aan die
Kaap op 27 Maart 1792 die volgende: 'Aanstonds wierd 's Landsvlag door
het Kasteel met 15 schooten gesalueerd, die ik met even zoo veel
bedankte; en wel haast kwam de Equipagiemeester der Maatschappij aan
boord, vragende, of en wanneer ik verkoos de eerbewijzingen te genieten,
die men gewoon is aan 's Lands Kapiteinen te doen' ."
Top
5.
SKEPE EN ROETES
deur AM van Rensburg
Seilskepe
was afhanklink van die wind en windrigting. Partymaal moes die skepe vir
weke wag by Texel voordat die wind reg was om te seil.
Twee
keer per jaar het hulle eers van Nederland uitgevaar, later drie keer.
Die Kermisvloot verktrek September/Oktober. Die Kerstfeesvloot vertrek
rondom nuwe jaar. Die Paasschepen vertrek gedurende die tyd van Paas.
Die Kersfees vloot kon maklik kos voorrade kry, asook bemanning werf,
want daar was amper geen ander werk die tyd van die jaar op ander skepe
nie. Kleiner skepies het die manne geneem na die vertrekpunt van die
groot Retoerskepe.
Die
skepe van die Kamers aan die Zuiderzee: Amsterdam,
Hoorn, en Enkhuizen het
hoofsaaklik van Texel vertrek. Die skepe het vergader en vir mekaar
gewag by die Koopvaardersrede agter Texel sodat hulle saam kon uitseil.
Die skepe van die Kamers Rotterdam en Delft het
vertrek van die Suid-Hollandse eiland Goeree, terwyl die skepe van Middelburg
(Zeeland) van
Vlissingen uitgevaar het.
Voor
dat hulle gevaar het, het die kaptein al die belangrike dokumente
ontvang en in die scheepsdoos (Ship's box) gesit. Dan was daar ook deur
een van die direkteurs 'n muster opgawe geneem van al die bemanning
voordat hulle vertrek het.
Van
Nederland het hulle deur die Kanaal geseil, maar gedurende oorlog het
hulle agter om Skotland en Ierland gevaar. Vandaar het hulle suid gevaar
tussen die Asore en Kanariese eilande, hier het die skepe van die WIC
weggebreuk en oos gevaar. Die VOC skepe het suid gevaar tot by die
Kaap-Verdiese eilande langs die weskus van Afrika. Dan het hulle in 'n
nou band gevaar tot by die ewenaar, wat bekend was as die waspoor (cart
track). Die waspoor het begin net suid van die Kaap Verdiese eilande en
van daar tot om en by die ewenaar. Dit was belangrik om binne die twee
parallel spore te bly anders sou hulle afkoers gewaai word, of met die
see stroom wes of oos gedryf word. Sommige skepe het in die Golf van
Guinea beland andere het weer aan die Noorde van Suid-Amerika en
Karribiese eilande beland. Sodra hulle deur die waspoor geseil het, het
hulle in die rigting van Suid-Amerika geseil. Daar was groot vreugde
wanneer hulle verby die gevaarlike Abrolhos eilande gevaar het. Die
eilande strek vir honderde myle ook onder water. Hierdie eilande was 'n
groot gevaarte vir die skepe. Die Abrolhos eilande is gele?tussen
Salvador (Bahai) en Rio de Janeiro. Die roete het dan verander na 'n
oostelike rigting met die Kaap as die doel. As hulle 'n bietje van koers
was dan het hulle in Saldanha baai beland. Van Nederland tot die Kaap
het 'n gemiddelde tyd van 140 dae geneem.
Van
die Kaap het hulle oos gevaar, die VOC skepe het gebruik gemaak van die
"roaring forties". Voordat die skepe Australi?bereik het,
het hulle noord gedraai om na Batavia toe te seil. Dit het omtrent 9
maande geneem om van Nederland tot Batavia te seil. Van die Kaap tot
Batavia het 'n gemiddelde tyd van 80 dae geneem.
Op
pad was daar die moontlikheid om te stop in Brittanje, Kaap-Verdiese
eilande, St Helena eiland,en Maurituis eiland, maar dit was net gedoen
in geval van nood en wanneer die politieke gesindheid positief was.
Wanneer die skepe 'n ander skip gesien het, het hulle 'n wit driehoekige
vlag gewaai - dit was 'n teken van vrede en goeie gesindheid. Wanneer
daar slegte gesindheid was dan het hulle 'n rooi driehoekige vlag gewaai.
Van
die Kaap om na Ceylon en Bengal te seil, het hulle noord langs die
Afrikakus op geseil, verby Madagaskar, vandaar het hulle roete verander
na Indi?toe. Hierdie roete was nie beskikbaar gedurende die maande van
die passaatwind nie (monsoon). Die ander roete was om Suid van
Madagaskar te seil en dan noord te draai. Van die Kaap na Ceylon het dit
omtrent 93 dae se rit geneem.
Daar
was verskillende skepe in die diens van die VOC:
Spiegelschip -
(square stern ships) hierdie was die grootste skepe, hulle het 'n plat
agterend gehad het. Die skepe was 160 voet lank en bewapend met kanonne
waarmee hulle enige aanvale kon afweer. Hierdie skepe was soortgelyk
gebou as die oorlogskepe. Hulle was die bekende groot Oostindiese skepe
Fluyt - dit was
meer van 'n stoor skip, was kleiner as spiegelschip. Hy het 'n ronde
agterend gehad, en was baie gebruik in Europa. Die fluyt was 'n
uitstekende skip vir groot vragte en was gebruik met die vervoer van rys,
graan en pepper in die Ooste. Die Kamer van Hoorn het die fluyt skip
ontwerp, hierdie was 'n middelgrote snelvarende driemas vragskip. Die
skip het 'n klein dek oppervlakte gehad en kon met 'n bemanning van tien
of twintig vaar. Hierdie skip was baie in Asi?gebruik.

Jaght - dit was
klein seilskepe wat gebruik was vir plaaslike werk. Het 'n plat agterend
gehad, met drie maste en vierkantige seile, daar was klein jaghte wat
tussen 80 -100 voete lank was, dan was daar die groot jaghte wat tussen
120 -135 voete lank was. Na een of twee ritte na Asi?het hulle nie
weer na Europa terug gekeer nie.
Pinas (pinnacles) was soortgelyk aan 'n jaght wat tussen 116
voete en 128 voete lank was, het ook a plat agterend gehad.
Fregat -hulle was
soos klein jaghte en pinas,, omtrent 100 - 110 voete lank. Gebou vir
snel vaart.
Bootje - was soos
'n klein fluyt omtrent 70 voete in lengte, met drie maste en het
vierkantige seile gehad.
Galjoot (galliot)
die lengte van hierdie rondeagterend skip was maar 60 - 70 voete lank.
Dit het een groot en een klein mas gehad. Hulle was hoofsaaklik gebruik
vir spesifieke sendings soos: adviesjacht, verkenner, posvervoer, en om
die terugkeerende vloot te ontmoet.
Katschip het 'n
plat bodem gehad, en kon 'n groot vrag geneem het, daar was 'n klein
personeel nodig gehad vir die skip van 100 - 120 voete. Die skip het
ontstaan by die Kamer Hoorn. Die skip was lig gebou en kon nie swaar
vragte dra nie.
hoecker -
Amsterdam,
Hoorn en Enkhuizen l?aan de Zuiderzee en die manskappe was per "ferrie"
na die groot skepe geneem. Hulle klim eers aan boord die groot skepe by
Texel of Vlieland, hier word die vrag opgelaai, asook die bemanning se
goedere, asook die kos. Die voorrade was met "lighters" of
"barges" na die groot skepe geneem, dit kon tussen 18 en 20
"barge" ritte geneem het om die hele vrag na die skeep te
gebring het. By Texel was 'n put waar hulle varswater vir die skepe
geneem het. Klein roeibootjies het die le?vate na die land en vol vate
terug na die skepe geneem. Dit is ook hier waar die manne die eed afgel?
het. Die groot skepe het selde na Amsterdam gevaar, behalwe vir
reparaties. Die groot skeepskraan in Amsterdam staan naby die
schreierstoren. Nederland se hawes het gedurig probleme gehad met
versanding van seegate en hawes.
Die
VOC het altesame 1461 skepe gebou: Amsterdam het 'n groot werf gehad
naby Rapenburg, die werf was later vervang. Die Kamer van AMsterdam het
728 skepe gebou. Die skepe van Enkhuizen was gebou op die werf aan die
Wierdijk. Enkhuizen het 108 skepe gebou.
Beide
die skepe van Rotterdam en Delf moes deur binnelandse waterroetes reis.
Van Rotterdam het hulle eers wes geseil, dan oos met die Ou Maasrivier
en dan draai hulle weer wes om in Hollandsdiep uit te vaar. Die skepe
het dan verby die eiland Goeree gevaar waar die bemanning op die groot
skepe oorgeklim het. Van Delf was daar 'n kanaal Suid gegrawe tot by
Delfshawe en dan het hulle die selfde waterroete as die Rotterdamers
gevolg. Die Maas was nie bevaarbaar deur die groot skepe nie. Kleiner
vaartuie, soos jaghte het personeel en goedere van Delf en Rotterdam na
Hellevoetsluis toe geneem waar die grooter skepe in die Rede anker gewag
het. Hellevoetsluis was dus die afvaart hawe vir beide hierdie twee
kamers. Van daar het hulle verby die Goeree eiland gevaar. Die kamer
Delf het 111 skepe gebou.
Die
Kamer van Zeeland (se hoofkwartiere was in Middelburg) het 306 skepe
gebou. Middelburg l?binnelands op 'n klein eilandjie. Middelburg het
die korste en beste verbintenis met die ope see. Daar was 'n kanaal wat
gebou was vir die skepe van Middelburg tot Rammekens. Perde het langs
die kanaal die skepe deur die kanaal getrek na hulle bestemming van
Rammekens. Die groot skepe van die Kamer van Zeeland het van die hawe
Vlissingen uitgeseil.
Die
VOC skepe na die Ooste het dus vertrek van Texel, Vlie, Hellevoetsluis,
Goeree of de Walcherse rede, en Vlissingen.
BIBLIOGRAFIE:
Pieter van Dam: Beschryvinge van die Oostindische Compagnie deel I vol I
Bruijns: Dutch Asiatic Shipping Vol I
HN Kamer: Het VOC - retourschip
Michael Roberts ed: 18th Century Shipbuilding
R van Gelder & L Wagenaar: Sporen van de Compagnie: De VOC in
Nederland
ed LM Akveld, S Hart, WJ van Hoboken: Maritieme Geschiedenis van der
Nederlanden Vol II
Karel Schoeman: Armosyn van die Kaap: Voorspel to Vestiging, 1415 - 1651
P van Mil: De VOC in de Kaart gekeken 1602 - 1799
Top